Die Groot Trek Terug na "Die Groot Trek" JOHANNES JACOBUS JANSE VAN RENSBURG Biografiese besonderhede Johannes Jacobus Janse van Rensburg ('Lang Hans') (gebore aan Sondagsrivier, dist. Swellendam, later Graaff-Reinet, 12.8.1779-oorlede Djindirivier, Mosambiek, einde Julie 1836), Voortrekkerleier. Sy identiteit is eers deur navorsing in 1965 vasgestel (A. H. Tromp) ). Hy was 'n lid van die vierde geslag van die Suid-Afrikaanse stamvader Claas (of Nicolaas) Jansz van Rensburg (Reinsburgh, Rensborgh, Rijnsburgh) wat voor 1708 aan die Kaap in diens van die V.O.C. aankom, vermoedelik uit die dorp Rijnsburg naby die Oud-Ryn, enkele myle noord van Leiden, in die provinsie Suid-Holland. Van R. se vader, Johannes Janse van Rensburg (gedoop 26.3.1758), was 'n neef van die veldkommandant Hendrik Janse van Rensburg, en was eers burger van die distrik Swellendam totdat die distrik Graaff-Reinet aan die einde van 1785 daaruit afgestig word. Sy moeder, Martha Potgieter (gedoop 23.12.1759), was 'n ouer suster van Hermanus Potgieter (1765-1871), vader van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter.* Van R. was dus 'n eie neef van Potgieter, 'n feit wat nie sonder betekenis is vir die gebeurde van 1835-36 waarby albei betrokke sou wees nie. In Kaapstad trou Van R. op 28.11.1802 met Sara Bronkhorst (21.10.1787 - Julie 1836), die dogter van Gijsbert Bronkhorst en sy eggenote, Sophia van Dijk. Sara Bronkhorst, gebore aan die Groot Visrivier, se naam word by haar huwe-lik as Gijsberta aangegee, en dikwels in kerklike registers en by die opgaaf as Susara. Haar tweelingbroer, Johannes Bronkhorst, is in 1815 een van die Slagtersnek-rebelle wat aangehou en vir sy deelname gevonnis word, 'n Neef van haar is Johannes Gerhardus Stephanus (Gert) Bronkhorst, lid van die Potgietertrek in 1836. | |
|